Pous Clemens IX
Clemens IX was die 238ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk van 1667 tot 1669. Pous Clemens IX is gebore as Giulio Rospigliosi op 28 Januarie 1600 in Pistoia, Groothertogdom Toskane. Hy stam uit 'n adellike familie en word opgevoed deur die Jesuïte. Hy verkry 'n doktoraat in die wysbegeerte van die Universiteit van Pisa en doseer teologie daar. Op 14 Maart 1644 word hy aangestel as titulêr aartsbiskop van Tarsus. Tydens die pontifikaat van Pous Urbanus VII is hy nuntius aan die Spaanse hof vanaf 14 Julie 1644. Urbanus maak hom vikaris van Santa Maria Maggiore in Rome. Op 9 April 1657 word hy kardinaal-priester van San Sisto en kardinaal-staatsekretaris. Rospiglione was 'n skrywer van gedigte, drama's en libretto's. In 1632 publiseer hy die libretto vir "Il Sant'Alesio" vir die musiek van Stefano Landi, in 1639 die libretto vir "Chi soffre, speri" vir die musiek van Marco Marazzoli en Virgilio Mazzochi en in 1653 die libretto vir "Dal male il bene" vir die musiek van Antonio Maria Abbatini en Marco Marazzoli. "Chi soffre speri" is die eerste bekende komiese opera, die première het plaasgevind op 27 Februarie 1639 in Rome. Op 20 Junie 1667 volg hy Pous Alexander VII en word gekroon op 26 Junie 1667 deur kardinaal Rinaldo d'Este. Hy regeer tot sy dood op 9 Desember 1669 en word opgevolg deur Pous Clemens X. Die naam ‘Clemens’ beteken 'die sagmoedige'. Pous Clemens IX se kort pontifikaat het nie belangrike verwikkelinge opgelewer nie. Hy het die dispuut met die Franse kerk oor die Jansenisme probeer besleg. Die tydelike vrede staan bekend as die Pax Clementina. Hy was ook 'n tussenganger by die vrede van Aken in 1668 waar die devolusie-oorlog tussen Frankryk, Spanje, Engeland en Nederland beëindig is. Die pous het 'n lewendige belangstelling getoon vir die kunste. Hy het Bernini opdragte gegee soos die engele van die "Ponte Sant'Angelo". Hy het egter nie sy naam op enige publieke werk laat aanbring nie. Vir die karnavalfees van 1668 het hy Antonio Maria Abbatini opdrag gegee om sy Italiaanse vertaling van die Spaanse religieuse drama "La Baltasara" te toonset. Clemens het probeer om die verdediging van Kreta teen aanvalle van die Turke te versterk, maar op 5 September 1669 het die Turke die vesting Candia (die teenswoordige Iraklion) op Kreta verower. Clemens het die goeie gewoonte gehad om daagliks dertien armes na sy tafel te nooi vir 'n ete waar hyself bedien het. Pous Clemens IX het twaalf nuwe kardinale aangestel in drie konsistories. Saamgestel en vertaal uit die Nederlandse, Engelse, Duitse en Franse wikipedia en aangevul uit ander bronne soos aangedui. Pous Clemens IX Geboortenaam Giulio Rospigliosi Pontifikaat begin 20 Junie 1667 Pontifikaat eindig 9 Desember 1669 Voorganger Alexander VII Opvolger Clemens X Gebore 28 Januarie 1600
Pistoia, Groothertogdom Toskane Sterf 9 Desember 1669
Rome, Italië Ander pouse genaamd Clemens Inhoud
Kerklike loopbaan
Die kollege van kardinale
Die konsistorie van 12 Desember 1667
Die konsistorie van 5 Augustus 1669
Die konsistorie van 29 November 1669
Saligverklarings
Heiligverklarings
Wikimedia Commons bevat media in verband met Clemens IX. Voorafgegaan deur
Alexander VII Pous (Pontifex Maximus)
1667 – 1669 Opgevolg deur
Clemens X Voorafgegaan deur
Fabio Chigi Kardinaal-staatsekretaris
1655 – 1667 Opgevolg deur
Decio Azzolini
